Vanaf die 16de tot 18de eeue was die regenten (die Nederlandse meervoudsvorm vir regent) die heersers van die Nederlandse Republiek asook van die Nederlandse stede. Alhoewel dit nie formeel as 'n oorerflike maatskaplike klas gefunksioneer het nie, was hulle de facto patrisiërs, oftewel edelmanne en deel van die aristokrasie, wat vergelykbaar was met die antieke Romeinse klas van patrisiërs. Die laat-Middeleeuese Nederlandse stede is deur die vermoënde handelaarsfamilies georganiseer, wat mettertyd 'n geslote groep gevorm het. Aanvanklik kon die burgers uit die lae klasse wat deel gevorm het van die gildes en "schutterijen" verenig om 'n teenwig teen die regenten te vorm, maar deur die loop van die 15de eeu het die administrasie van die stede en dorpe egter die karakter van 'n oligargie aangeneem. Vanaf die laat-17de eeu was die regentefamilies in staat daartoe om regeringsposte vir hulself te reserveer via kwasi-formele kontraktuele ooreenkomste. In die praktyk kon hulle posisies slegs by wyse van politiese woelinge en omwentelinge soos die Orangistiese rewolusie van 1747 en die Patriotopstand van 1785 onklaar gemaak word.